
Midstream Familiekerk is 'n rustige tuiste vir besige mense. So kort geskiedenis oor MFK kan mens dadelik vertel wat verwag kan word wanneer die gemeente besoek word.
Aanvanklik is met eredienste begin by 'n koffiewinkel in die landgoed, nadat lede van die gemeente in Olifantsfontein só 'n behoefte geïdentifiseer het. Dit was 'n proses wat met stampe en stote gepaard gegaan het. 'n Moderne, maar praktiese kerk is in 2010 voltooi. Daar is in alle ywer begin om die gemeente op die been te bring, maar sy toekoms het met tye wankelrig gelyk. In plaas daarvan dat die gebeure die gemeente ondergekry het, is daar besluit om terug te veg. Dit is gedoen onder die wakende oog van Dr. Paul de Beer wat as brugpredikant opgetree het.
Danksy harde werk en toewyding is Gemeente Midstream op Sondag 15 November 2009 onder leiding van die Ringkommissie gestig. Lede van die kerkraad het dit bestempel as 'n ongelooflike geestelike ervaring, die hoogtepunt van baie harde werk en verhoring van gebede. Die eerste kerkraadslede is tydens die geleentheid in hulle ampte bevestig en die kerkraad het Dr. Gerhard Lindeque van Rooihuiskraal as predikant beroep. Die gemeente sal voortaan as die Midstream Familiekerk bekend staan.
Die kerkraad, in samewerking met die gemeente, beplan 'n blink toekoms vir die nuwe kerk. 'n Kinderkerk is onder meer in Januarie 2012 begin om jonger lidmate tegemoet te kom. Verskeie ander bedrywighede word ook beplan. Midstream Familiekerk wil hiermee alle belangstellendes vriendelik uitnooi om by die kerk in te skakel.
Tans is Midstream Familiekerk besig om haarself te vestig as 'n prominente baken in Mistream Estates. Met die lidmate se oog gerig na Bo, kan daar steeds met dankbare toewyding gewerk word in die Koninkryk van God.